Description
FORMAAT: Boek
AANTAL BLADSYE: 113
OPSOMMING: Ja, ek is die pleegma vir Landi van die Huis van Gruwels.
Hierdie boek gaan oor my en ons gesin se pad saam met Landi, maar hierdie is nie ʼn opvolg verhaal nie. Hierdie boek dien as klinkklare bewys dat Romeine 8:28 die waarheid is: Romeine 8:28 DB: “Ons kan nou van een saak seker wees: God gebruik elke ding wat in ons lewens gebeur om sy doel te bereik. Vir ons wat vir God liefhet, werk alles tot ons beswil uit.” Ons elkeen se lewe is ʼn sameloop van keuses. Sommige keuses was vír ons gemaak en het ons nie beheer oor gehad nie. Sommige keuses was net ʼn flop. Maar, op een of ander stadium in elke mense se lewe, kry jy ʼn kans om jou keuses en jou lewe vir God te gee – die Meester in kompos maak!
Daar is maar ʼn skamele vyftien jaar in ouderdomsverskil tussen my en Landi en baie dae twyfel ek of ek in staat is om ʼn ma-figuur vir haar te kan wees. Maar dis wat sy nodig het, sy het nie ʼn vriendin nodig nie, dit het sy reeds, sy het ʼn ma nodig en dit is wat ek vir haar sal wees. God het my gemors kom neem en daarvan kompos gemaak. Hy het die kompos gereed gehou, vir die oomblik wanneer Hy Landi in ons lewe sou inbring, sodat dit kon help in haar groeiproses. Mag jou geloof versterk word. Mag jy glo dat jy ʼn groter doel het en ʼn verskil kan maak. Mag jy vry kom van die seer in jou verlede en sodoende jou fokus op ʼn blink toekoms vestig. Mag jy herinner word, dat wanneer dinge moeilik is in jou lewe: “Die Liefde en die Lewe ʼn Keuse is.”
SKRYWER: Mariette Kroukamp is op 5 Januarie 1983 in Boksburg, aan die Oos-Rand gebore. As die jongste van twee dogters, het sy in Boksburg grootgeword en was Hoofdogter by Laerskool Elspark in 1996.
Sy het haar hoërskoolloopbaan aan die Hoër Tegniese Skool, Elspark voltooi en in 2001 Matriek met twee onderskeidings in Engels en Siviele Tegnologie geslaag. Gedurende haar hoërskooljare, vroeg in 1998, het God haar hart vasgegryp en het sy haar lewe vir Hom gegee. Sy is op 9 Augustus 1998 gedoop.