Description
In “Tru-spieëltjie” verduidelik Ds. Fourie Rossouw ons verhouding met God aan die hand van die metafoor van ” ‘n tru-spieëltjie.”
Die 5:03 min Nous-kortfilms is ontwikkel om te dien as gespreks-lanseerders. Die video-inset se doel is om gedagtes los te maak en mense se verbeelding te prikkel. Dit glo ons gebeur die beste waar mense dit saam kyk en daaroor praat.
Ons dink dit is ‘n goeie idee om koffie-winkel gesprekke te reël waar mense die kort-film saam kan kyk en dan die gespreksvrae (sien onder) kan oordink.
Bybelteks: Johannes 10:1-13
“Dít verseker Ek julle: Wie nie deur die hek in die skaapkraal ingaan nie maar van ‘n ander kant af inklim, is ‘n dief en ‘n rower.
Maar hy wat deur die hek ingaan, is die skape se herder;
vir hom maak die hekwagter oop. Die skape luister na die herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit.
Wanneer hy al sy skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit, en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken.
Hulle sal nooit ‘n vreemde volg nie maar van hom af weghardloop, omdat hulle nie die stem van vreemdes ken nie.”
Deur hierdie beeld het Jesus met hulle gepraat, maar hulle het nie verstaan wat dit was wat Hy vir hulle wou sê nie.
Toe het Jesus verder gesê: “Dít verseker Ek julle: Ek is die ingang vir die skape.
Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie.
Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry.
‘n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.
“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.
‘n Huurling is geen herder nie, en dit is nie sy eie skape nie. As hy ‘n wolf sien kom, los hy die skape en hardloop weg, en die wolf vang die skape en jaag die trop uitmekaar.
Hy is ‘n huurling en bekommer hom nie oor die skape nie.
Videoteks
My eerste kar was ’n Ford Cortina, een van daardie ou legendariese motors. Dit het as ‘n geskenk na my kant toe gekom deur vriende wie se ouers op Victoria-Wes bly. Hulle het dit halfpad by Prins Albert Weg stasie gelos en ek en my pa het deurgery om die kar te gaan haal. Daar aangekom, start ek dit en dit vat met die eerste draai van die sleutel, dit was die laaste keer wat dit gebeur het! Ek trek daar weg en ek cruise…
Terwyl ek nog so ry, lui my foon en ek sien dit is my pa wat bel. Hy vra my hoe die kar ry, ek antwoord dit ry fantasties. En toe begin hy op my case klim omdat ek te vinnig ry, (die kar is immers swaar is op brandstof), te veel in die geel streep aftrek en elke nou en dan ‘n vragmotor op ‘n sperstreep verby steek.
Vir die eerste keer is ek bewus van my pa in die truspieëltjie en vir die volgende 40 km is ek toe besig om die verhouding tussen my en my pa te manage. Ek ry te vinnig, dan raak die afstand tussen my en hom te ver, verminder ek spoed dan is hy weer te naby, as ek dan weer vet, gee raak hy so ‘n klein stippeltjie op die horison en te veel motors is dan tussen my en hom.
Net so buite Laingsburg stop ons en drink toe ‘’n koeldrank. Toe ons daar wegtrek, ry my pa voor en ek kom agterna. So twee of drie kilometers aan, besef ek dinge is nou anders, my pa is toe nie so besig met my soos wat ek die heeltyd met hom was nie.
Ek sien hom hier voor my, hy gee die pas aan, hy ken die pad en hy vat ons huis toe. Ewe skielik is daar hierdie spasie tussen my en hom en ek begin ontspan.
Dikwels is dit dieselfde tussen ons en God. God word gou ’n kritiese vaderfiguur in ’n truspieëltjie. Dan is God ‘n spikkeltjie op die horison en nie eintlik betrokke in ons lewens nie. Ander kere verminder ons spoed en probeer harder werk aan ons verhouding met God, maar dan ry Hy dikwels te naby, te krities.
En so hou mens op om in die oomblik te leef, want ons is heeltyd in gesprek met ‘n god wat net in ons vrese bestaan. En dan mis ons die oomblikke vol lewe, stunning oomblikke van kontak met mense, met onsself, met die heelal, met die aarde, met geleenthede en met God.
Mag jy die vrede en die vryheid ervaar van die skuif weg van die truspieëltjie na ‘n God wat langs jou deur die lewe journey.
Vir die kleingroep:
Doen ‘n kort stilword gebed en lees daarna die teksgedeelte.
Kyk die kortfilm: Tru-spieëltjie
Gespreksvrae
Watter emosies maak hierdie storie in jou wakker?
Aan watter verhoudings laat hierdie storie jou dink? Hoekom?
Watter kommentaar lewer hierdie storie op die verhouding wat vir jou uitstaan?
Wat lê hierdie week vir jou voor?