Description
In “Sushi” verduidelik Ds. Fourie Rossouw ons betrokkenheid as gelowiges by die nood rondom ons aan die hand van die metafoor van ” ‘n sushi-stalletjie.”
Die 3:25 min Nous-kortfilms is ontwikkel om te dien as gespreks-lanseerders. Die video-inset se doel is om gedagtes los te maak en mense se verbeelding te prikkel. Dit glo ons gebeur die beste waar mense dit saam kyk en daaroor praat.
Ons dink dit is ‘n goeie idee om koffie-winkel gesprekke te reël waar mense die kort-film saam kan kyk en dan die gespreksvrae (sien onder) kan oordink.
Sushi
Bybelteks: LUKAS 10:25-37
Daar was ‘n wetgeleerde wat aan Jesus ‘n strikvraag wou stel. Hy staan toe op en vra: “Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”
Jesus sê vir hom: “Wat staan in die wet van Moses geskrywe? Wat lees jy daar?”
Hy antwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.”…
Maar die wetgeleerde wou homself handhaaf en vra vir Jesus: “En wie is my naaste?”
Jesus gaan toe nader daarop in deur te sê: “Toe ‘n man eenmaal op pad was van Jerusalem af na Jerigo toe, het rowers hom aangeval. Hulle het hom kaal uitgetrek en hom geslaan dat hy halfdood bly lê, en toe padgegee.
Dit gebeur toe dat daar ‘n priester met daardie pad langs kom, en toe hy hom sien, gaan hy ver langs verby. Net so het daar ook ‘n Leviet by die plek gekom, en toe hy hom sien, gaan hy ook ver langs verby.
Maar ‘n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. Hy het na hom toe gegaan, sy wonde met olie en wyn behandel en hulle verbind. Toe het hy hom op sy rydier gehelp en hom na ‘n herberg toe geneem en hom daar verder versorg…
“Wie van hierdie drie is volgens jou die naaste van hom wat onder die rowers verval het?”
Die wetgeleerde antwoord: “Die man wat aan hom medelye bewys het. “Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so.”
Videoteks
Die verhaal van sushi is nogals merkwaardig. Dit het begin as ‘n manier om vis te preserveer. So vroeg as 500BC het die Chinese al begin eksperimenteer met ‘n baie unieke manier van vis voorberei. Sushi, soos ons dit vandag ken, het egter eers in die 1800’s sy verskyning gemaak.
‘n Ou met die naam Yohei Hanaya het gap gesien in die hip and happening fast life besigheids sektor van Tokyo. Hy het begin om klein bite size porsies vars vis op rys vanuit ‘n baie unieke klein straat stalletjie verkoop. Vandag ken ons dit as sushi-nigiri.
Die stalletjie waaruit die sushi verkoop is, word ‘n yattai genoem. ‘n Antieke tipe waentjie met ‘n klein counter en ‘n gordyntjie wat kon oop en toe trek.
Hierdie konsep het gou gewild geword en binne ‘n paar jaar was daar talle yattai stalletjies oral in die stad.
Hoe sou ‘n mens die beste sushi in die stad vind? Jy kyk na die toestand gordyntjie.
Sushi-kopers het ‘n koppie groen tee saam met hulle sushi ontvang. Die laaste slukkie was egter vir jou vingers bedoel. Voordat jy loop het jy jou vingers aan die Yattai se gordyntjie afgedroog.
Dus, hoe meer mense van jou sushi hou, hoe meer vingermerke teen jou gordyn. Hoe beter die sushi, hoe vuiler die gordyn. ‘n Goeie yattai is ‘n deurleefde yattai.
Toe Jesus op die scene kom, het die godsdienstiges van sy tyd ure gespandeer om die gordyne van hul geloof skoon te hou. Jesus het hulle een kyk gegee en gesê: Julle mis die punt. Wat help dit jou gordyn is silwerskoon, maar jou sushi is dodgy en overpiced?
En toe vertel hy ‘n storie: ‘n Sakeman wat op reis was is deur rowers oorval en vir dood agtergelaat. Twee godsdienstige Jode is afsonderlik op die dieselfde pad op reis. Elkeen het die man een kyk gegee en ter wille van gehoorsaamheid aan God, eerder nie die kans gevat om die man te help nie.
Die twee het gehoop om skoon en netjies – vir God – by die tempel te ontmoet, maar het langs die man in die veld verby gestap.
‘n Derde persoon kom toe daaraan. Sonder om te dink help hy hom.
Vir Jesus was die vraag oor reinheid nie ‘n reg-en-verkeerd vraag nie: wat mag ek en wat mag-ek-nie. Eerder om jou hande vuil te maak met die seer van ander.
Mag die vingermerke van hulle wat opsoek is na nog ‘n kans oral op jou gordyn ‘n storie van genade vertel…
Vir die kleingroep:
Doen ‘n kort stilword gebed en lees daarna die teksgedeelte.
Kyk die kortfilm – Sushi
Gespreksvrae
Watter emosies maak hierdie storie in jou wakker?
Aan watter verhoudings laat hierdie storie jou dink? Hoekom?
Watter kommentaar lewer hierdie storie op die verhouding wat vir jou uitstaan?
Wat lê hierdie week vir jou voor?