Description
In “Mure” verduidelik Dr. Nico Simpson Sag 2 en kerkwees aan die hand van die metafoor van ” ‘n stad sonder mure.”
Die 4:38 min Nous-kortfilms is ontwikkel om te dien as gespreks-lanseerders. Die video-inset se doel is om gedagtes los te maak en mense se verbeelding te prikkel. Dit glo ons gebeur die beste waar mense dit saam kyk en daaroor praat.
Ons dink dit is ‘n goeie idee om koffie-winkel gesprekke te reël waar mense die kort-film saam kan kyk en dan die gespreksvrae (sien onder) kan oordink.
Bybelteks: SAGARIA 2:1-13
Ek het weer ‘n gesig gesien. Daar was ‘n man met ‘n maatlyn in die hand, en ek het gevra: “Waar gaan u heen?” Hy het vir my gesê: “Ek gaan Jerusalem uitmeet om te sien hoe breed en hoe lank hy moet wees.”
Die engel wat vir my die gesig moes uitlê, gaan toe vorentoe en kry ‘n ander engel wat na hom toe kom.
Hy het vir dié engel gesê: “Hardloop en sê vir daardie jongman: Jerusalem gaan ‘n stad sonder mure word, so baie mense en diere gaan daar in hom wees.
Die Here sê: Ek sal ‘n muur van vuur rondom die stad wees, my magtige teenwoordigheid sal binne-in hom wees.”
Kom, kom, vlug uit die noordland! sê die Here. Ek het julle na die vier windstreke toe verstrooi, sê die Here.
Kom, Sion, jy wat in Babel woon, kom weg daar!
So sê die Here die Almagtige wat my met volmag gestuur het na die nasies toe wat oorlogsbuit van julle gemaak het: Wie aan julle vat, vat aan my oogappel.
Met een waai van my hand teen hulle gaan Ek hulle die gevangenes van hulle eie slawe maak. Wanneer dit gebeur, sal julle weet dat die Here die Almagtige my gestuur het.
Juig, Sion, wees bly! Ek kom, Ek gaan binne-in jou woon, sê die Here.
Daardie dag sal baie nasies hulle aan die Here verbind: hulle sal my volk wees, en Ek sal in jou woon, Sion. Wanneer dit gebeur, sal jy weet dat die Here die Almagtige my na jou toe gestuur het.
Daar, op die heilige grond, sal die Here weer vir Juda in besit neem as die volk wat Hom toekom, sal Hy Jerusalem weer sy woonplek maak.
Wees stil voor die Here, al wat leef! Hy kom uit sy heilige woning te voorskyn!
Videoteks
In die middel van Australia is daar ‘n groot rots waarvan die inheemse mense praat as die hart van die kontinent.
Hulle vertel van ‘n ou wat nie ver van daar nie by ‘n boer gekuier het. Hulle het rondgery en hy het deur die dag agtergekom dat hy nie eintlik kampe sien nie. Toe vra hy die boer daarna. Die boer antwoord hom: “That’s no problem, sonny. Around here we don’t erect fences, we sink wells.”
Hulle probeer nie die beeste inhou nie, hulle probeer hulle aantrek.
As ‘n profeet so drie duisend jaar terug (eintlik 2500- 15 Februarie 519 v.C.) oor die nuwe stad van God skrywe, dan sê hy dieselfde: “It’s wells – not walls.”
Die nuwe stad het nie mure nie. In die nuwe stad is hulle nie heeltyd besig met: wie’s in en wie’s uit nie – wie behoort en wie behoort nie. Nee, in die nuwe stad word mense aangetrek – na die fokus, die kern, die put, die Lewende Water in die middel.
Ons as gelowiges glo natuurlik dat dit nie ’n put is nie, maar ‘n Iemand – a moving target – wat ons volg.
Ons hoef nie heeltyd besig te wees met – wie’s in en wie’s uit nie.
Mure is vir mense wat in ‘n stad woon sonder ‘n fokus, sonder ‘n God.
Mag ons ‘n community raak wat minder uit ons vrese uit leef. Dit is mos maar oor die vrese wat ons die heeltyd besig is om die dik buitelyne om ons communities te trek.
Mag ons die bewegende Liefde volg en ons hand uitsteek en nuwe kontak maak. Nuwe vriende maak.
Mag ons God ontmoet in die alledaagse. Die gewone. Buite die klein boksies. Oor die drade en die mure wat ons vir God probeer maak.
So 700 jaar (waarskynlik 95 n.C. dus 614 jaar) na die profeet skryf ‘n ander een oor die stad wat kom: In die stad wat kom, gaan dit ook nie oor mure nie. Om die waarheid te sê daar is nie eers ‘n kerk in die stad wat kom nie.
Dit is as jy weet wie jy is dat jy die drade kan knip; die mure kan afbreek.
Dit is eintlik as jy weet wie s’n jy is dat jy kan leef sonder mure.
Vir die Kleingroep
Doen ‘n kort stilword gebed en lees daarna die teksgedeelte.
Kyk die kortfilm: Mure
Gespreksvrae
Watter emosies maak hierdie storie in jou wakker?
Aan watter verhoudings laat hierdie storie jou dink? Hoekom?
Watter kommentaar lewer hierdie storie op die verhouding wat vir jou uitstaan?
Wat lê hierdie week vir jou voor?