Moed om mens te wees

R95.00

‘n Bybelstudiegids vir tien gespreksbyeenkomste vir vroue. Die baie bekende gesin van Betanië in Judea – Marta, Maria en Lasarus – se verhaal sal jou help om met waagmoed te leef in die tyd en ruimte wat God vir jou gee.

Description

SUBTITEL:  10 Bybelstudies oor ‘n ongewone gesin – Marta, Maria en Lasarus

FORMAAT: Boek

BLADSYE: 92

OPSOMMING: ‘n Bybelstudiegids vir tien gespreksbyeenkomste vir vroue. Die baie bekende gesin van Betanië in Judea – Marta, Maria en Lasarus – se verhaal sal jou help om met waagmoed te leef in die tyd en ruimte wat God vir jou gee.

VOORWOORD: Die moeisame dog ryk pad wat tot hierdie boek gelei het, is gebore uit die skrywers se gedeelde besorgdheid oor ’n vernietigende roofdier wat ná 2 000 jaar steeds jagmaak op Christene se lewenskwaliteit en sinservaring. Die naam van dié dier is mag – die soort wat (dikwels onbewustelik en subtiel) neersien en minag, plattrap en uitbuit, manipuleer en wegkyk; kortweg: wat menswaardigheid misken.

Bybel-in-die-hand het ons gesoek na verhale wat ons uit dié dilemma kon neem. In die proses moes ons nuut leer luister – na God se woorde in mensetaal van lank gelede én na mekaar in die hier en nou. Ná baie wonder het die pendulum tot rus gekom by daardie welbekende gesin van Betanië in Judea. Met die geur van varsgebakte brood om ons kon ons Marta nuut leer waardeer as ’n toegewyde gasvrou. Maar ons moes ook probeer verstaan waarom sy so bekommerd was oor “baie dinge”. Toe ontdek ons haar verrassende waagmoed om Jesus te konfronteer – nie net oor haar suster se vreemde gedrag nie, maar ook oor Jesus sélf haar in die krisisuur in die steek gelaat het … Uiteindelik slaan sy ’n mens se voete onder jou uit met: “Ja, Here, ek glo vas dat U die Christus is”.

Haar suster Maria, weer, het ons meegevoer met haar merkwaardige vermoë om in die oomblik te onderskei waarop dit werklik aankom, en dan sonder skroom te kies. Teenoor alle perke wat haar tyd en kultuur op haar as (ongetroude?) vrou kon plaas, bevestig Jesus wat sy doen met ’n enkele magswoord: “Maria het die beste deel gekies”. So ook wanneer sy sy voete met ’n halfliter duur nardusolie salf: “Laat staan haar.”

Vir hulle broer, Lasarus, leer ’n mens maar so tussen die lyne ken. Byna ondenkbaar vir sy tyd kom hy nêrens self aan die woord nie. Hy is die een met wie alles gebeur, wat dramaties uit die dood opgewek word. Juis daarin spoor hy ons as later lesers aan om mooi op te let Wie dié dinge laat gebeur.

Fragmente uit hierdie gesin se verhaal kom op slegs twee plekke in die Bybel voor – Lukas 10:38-42 en Johannes 11:1-12:11. En die twee vertellings verskil nogal in atmosfeer, aksent en doel. Dit vra dat ons ekstra fyn kyk na God se groter verhaal soos dit in dié Evangelies vertel word. Presies daarin hoop hierdie boek om jou te help – nie net deur nuut na ’n ou-ou verhaal te luister nie, maar ook deur sáám die dissipline en kuns in te oefen om vandag nog met profetiese waagmoed te leef in die tyd en ruimte wat God vir jou gee.

Uiteindelik laat die storie van ‘n ongewone gesin uit Judea die kollig val op hulle vriend uit Galilea, Jesus van Nasaret – dié Jesus wat so vry en vol medelye was dat Hy ander kon vry maak om waarlik méns te wees. In Hom leer ken ons die God wat mense se noodkrete raakhoor, wat randpersone raaksien, wat hulle toelaat om wanhopige vrae na Hom te slinger, en wat – lynreg teen die gebruike van sy tyd in – met hulle in gesprek tree. Deur sy egte deernis word mense se waardigheid aan hulle teruggegee. Trouens, Jesus wys dat God se bevrydende, helende mag juis in God se ontferming lê. Dís die evangelie! En dis die vreemde, brose weg waarop geloofsgemeenskappe steeds genooi word om God na te volg – roofdiere en al.

INHOUD

Seisoen van Luister
Hoe om die boek te gebruik

Bybelstudie 1: Fokus
Jesus help ons om te fokus op wat regtig belangrik is

Bybelstudie 2: Hier!
Jesus help my om die plek waar ek my nou bevind (hier!) te herken as die plek waar ek moet wees

Bybelstudie 3: Sien!
Jesus help ons om mekaar en ons wêreld te sien soos God dit sien

Bybelstudie 4: Bevestig
Jesus bevestig ons uniekheid en maak ruimte vir ons om onsself te kan wees

Bybelstudie 5: Meeleef
Jesus wys ons hoe om meelewing met ander mense se seer te hê

Bybelstudie 6: Wag
Jesus bevry ons van ons gejaagdheid en wys ons hoe om soms geduldig op God te wag

Bybelstudie 7: Praat met
Jesus wys ons hoe om respekvol met alle mense te praat

Bybelstudie 8: Leef vandag
Jesus wys vir ons dat Hy vandag, in die oomblik, leef – en nooi ons uit om dit saam met Hom te doen

Bybelstudie 9: Leer by
Jesus wys ons hoe om daarvoor oop te wees om by onwaarskynlike mense te leer

Bybelstudie 10: Waag
Jesus wys ons hoe om vir mense veilige ruimtes te skep om te kan waag

Luistersiklus

SKRYWERS

Elna Mouton
Marie Britz
Christelle Bekker
Elsje Buchner
Breda Ludick
Nico Simpson