Description
FORMAAT: Boek
OPSOMMING: Met die verskyning van die Kitaarbegeleiersboek is die reikwydte van die Liedboek verder as net eredienste uitgebrei. Dit voorsien in die behoefte van mense wat hierdie liedere by kleingroepbyeenkomste, Bybelstudies, gemeentekampe, jeugkampe en met huisgodsdiens en kerklike feestye in hulle huise wil sing – daar waar die orrel nie altyd kan kom nie. Uit die Liedboek is dié liedere gekies wat effektief met die kitaar en klawerbord begelei sou kon word. Altesaam 334 liedere (45 psalms en 238 ander liedere) is uitgesoek en van kitaarakkoorde voorsien. Die liedere is so geset dat die melodielyn, die teks van die verskillende strofes, én die kitaarakkoorde bymekaar is – alles is dus met een oogopslag vir die kitaarspeler leesbaar. ’n Verdere voordeel is dat, sover moontlik, diagramme van die kitaarakkoorde wat in die liedere voorkom, direk onder die lied geplaas is. Kitaar-spelers kan dus dadelik sien hoe die akkoord lyk en dit oefen. Sodoende sal hulle nie net korrek en stylvol speel nie, maar hulle kan ook voortdurend hulle standaard van spel verbeter deur ook minder bekende en meer uitdagende akkoorde baas te raak.
Hierdie A4-formaat boek lê lekker gemaklik oop voor die speler, en omdat die bladuitleg so slim gedoen is, hoef daar nooit tydens die speel van ‘n spesifieke lied omgeblaai te word nie. Die Kitaarbegeleiersboek bevat boonop allerlei hulpmiddels, soos die kitaarweb om transponering te vergemaklik en akkoorddiagramme om die korrekte akkoorddrukke aan te leer. Die riglyne vir die gebruik van die boek bied ook waardevolle inligting en hulp vir die minder ervare kitaarspeler.
Met hierdie publikasie kan die liedereskat in die Liedboek nou ook buite die kerkgebou gebruik word, sodat gelowiges waar hulle ook al in die Naam van die Here bymekaar kom, “met hulle hele hart tot eer van die Here” kan sing.