Description
In “Hekel” verduidelik Dr. Nico Simpson aan die hand van ‘n metafoor hoe God ons weer en weer tweede kanse gee.
Die 5:18 min Nous-kortfilms is ontwikkel om te dien as gespreks-lanseerders. Die video-inset se doel is om gedagtes los te maak en mense se verbeelding te prikkel. Dit glo ons gebeur die beste waar mense dit saam kyk en daaroor praat.
Ons dink dit is ‘n goeie idee om koffie-winkel gesprekke te reël waar mense die kort-film saam kan kyk en dan die gespreksvrae (sien onder) kan oordink.
Bybelteks: Matteus 1:1, 18-21
Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die seun van Abraham: …
Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus. Toe sy moeder Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom.
Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek.
Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees.
Sy sal ‘n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.”
Videoteks
Huibri, my skoonsuster hekel die mooiste dekens. Sy maak drie beentjies vir elke lussie, met ‘n egalige spanning op die wol. Een vakansie was sy besig om ‘n dubbelbed-deken te hekel, toe iets groot verkeerd loop.
Sy begin in die middel en hekel al om en om en om. Soos die deken groter raak, kan dit lank vat om weer by die plek verby te hekel waar sy ‘n paar dae terug was.
Ek onthou hoe ek ingestap en sy met haar skouers vooroor gesit het. Met die in die rondte hekel, ontdek sy toe dat sy drie dae terug een lussie met net twee beentjies gemaak het. . Sy kon nie aangaan nie. Dit was ‘n fout
Ons ken almal die gevoel dat iets van die verlede ons her-besoek. Hoe goed wat ons gedog het ons agtergelaat het, ons inhaal.
Selfs toe een van die swaers haar probeer omkoop om dit te ignoreer, verder te hekel, het sy gesê sy kan nie, dit “krap in haar siel”. Toe ons weer kyk, het sy dit rustig uitgetrek tot by die fout en weer begin. Oor begin.
Ons ken daardie verlange: om oor te kan begin. Om die foute van die verlede ongedaan te maak. Om te kan sê: ek weet nie hoe ek hier gekom het nie, ek wil eintlik op ‘n ander plek wees, ek wil dit alles oordoen.
Twee duisend jaar terug was daar ‘n volk wat op so ‘n plek was.. Hulle het soveel potensiaal gehad – hulle moes lig wees vir almal rondom hulle, maar was vasgeval in die donker. Hulle knoeiwerk van die verlede het hulle ingehaal. Hulle kon nie uit dit uitkom nie.
Toe word daar ‘n Kind gebore en Sy pa het opdrag om Hom die Griekse naam Jesus wat ‘n vertaling was van die Hebreeuse naam Josua is, te gee…God red.
Oor die Kind se hele lewe staan geskrywe: Hy gee jou ‘n nuwe begin, ‘n vars dag, ‘n clean slate. Jy’s nie meer vasgeval in jou verlede nie, jou toekoms word nie bepaal deur die foute wat jy gemaak het nie.
Daar word vertel dat mat-knopers glo dat in elke mat wat hulle knoop hulle ten minste een fout moet maak, want sê hulle: “net God is volmaak.” Ons betaal baie geld vir hand geknoopte matte. Dis in die onvolmaaktheid wat die kuns lê.
• Mag ons ontdek dat ons nie vasgeval is in die foute, in die knoeiwerk van die verlede nie, maar dat ons actually vry is om ‘n nuwe begin te maak.
• Mag ons hierdie volmaakte liefde weer ontdek, wat lief is vir lewens met foute en raaiings en al.
• En mag ons ontdek dat aan die einde van elke pad daar ‘n nuwe reis begin.
Vir die kleingroep
Doen ‘n kort stilword gebed en lees daarna die teksgedeelte.
Kyk die kortfilm – Hekel
Gespreksvrae:
Watter emosies maak hierdie storie in jou wakker?
Aan watter verhoudings laat hierdie storie jou dink? Hoekom?
Watter kommentaar lewer hierdie storie op die verhouding wat vir jou uitstaan?
Wat lê hierdie week vir jou voor?