Description
SUBTITEL: Ervaar die lewe van die aardse Jesus. ʼn Gespreksgids vir groepe.
FORMAAT: Boek
AANTAL BLADSYE: 92
OPSOMMING: Mense maak vir hulleself prentjies van Jesus. Gewoonlik is dit prentjies wat hulle pas. Dit is dikwels prentjies wat min of meer na hulle eie beeld geskilder is.
Maar ken ons Jesus werklik? Ons het geen foto van Hom nie, niks wat Hy geskryf het nie, geen video wat wys hoe Hy opgetree het nie. Ons kan Hom nie vasgryp nie.
Ons het wel genoeg betroubare gegewens om ’n oortuigende beeld van sy omstandighede en lewe op te bou. Dit doen ons in hierdie boek, en só stel ons ons oop vir sy greep op ons. Want Jesus kan óns vasgryp.
Hierdie boek wil jou help om Jesus beter te leer ken. Onthou egter dat lees net ’n begin is, want ons leer Jesus werklik ken deur Hom te volg. Hy nooi ons dan ook om agter Hom aan te kom en neem ons stap vir stap deur die lewe. Dikwels lei Jesus anders as wat ons verwag; telkens neem Hy ons waar ons nie wil wees nie.
Só kom ons agter dat Jesus anders is as wat ons gedink het. Só leer ons Jesus ken deur ons eie ervaring, dikwels deur vir Hom en saam met Hom te ly.
Dis ’n waagstuk om ja te sê vir Jesus. Dié 12 Bybelstudies wil jou daarom help om nie net meer oor Jesus en jou beeld van Jesus na te dink nie, maar om Hom ook al hoe meer by jou lewenservarings in te laat en Hom daar te volg.
Ook beskikbaar om saam met hierdie Bybelstudieboek te lees: Genooi om te volg – Willem Nicol
Inleiding
1. Hy nooi jou
2. Nie ʼn gespierde held nie
3. Met oop arms
4. ʼn Nuwe wêreld van moontlikheid
5. Die God wat my “om die nek val en soen”
6. Amptelik was Jesus ʼn ketter
7. Amptelik was Jesus skuldig aan hoogverraad
8. Jesus kies ʼn alternatiewe pad
9. Die geringes wat Hom volg
10. Wat staan sentraal?
11. Die ligte lewe
12. God neem ons saam en ons gee mee
SKRYWER
Willem Nicol het ʼn doktorsgraad in Nuwe Testament en in Sistematiese Teologie. Hy was 33 jaar lank studenteleraar vir die NG Kerk in Pretoria. Daarna het hy ʼn vryskutpredikant geword om op die kontemplatiewe kant van spiritualiteit te fokus. Hy het reeds nege boeke oor hierdie onderwerp gepubliseer. Willem het ʼn passie vir ʼn leefstyl met ʼn bewussyn oop vir die Here. Hy is getroud met Joke en hulle het drie getroude kinders.