Description
SUBTITEL: Die reis saam met God
FORMAAT: CD en DVD
OPSOMMING: “Die mense van die Weg.” Só is die vroeë volgelinge van Jesus genoem. Hulle was almal saam op reis met God deur die wêreld – op weg met God, sou mens kon sê.
Die Bybel praat oor ons verhouding met die Here as ’n reis. Ons hele lewe is ’n reis – want vandag is ons nie meer waar ons gister was nie, en môre gaan ons nuwe dinge ervaar en beleef. Goed en sleg.
Die Prediker skryf oor die reis of weg waarop ons is: “Hou jou oë op die pad vorentoe, kyk reg voor jou uit. Moenie links of regs wegdraai nie, weerhou jou van die verkeerde koers.”
In Die Weg kyk ons na verskillende en uiteenlopende Bybelkarakters en hulle reise met God. Baie se reis het hulle op ompaaie, alternatiewe paaie en kruispaaie geneem. Daar was egter ook diegene wat gewaag het en oorgrenspaaie geneem het. Vir sommige was die reis opwindend en opbouend. Vir ander het die reis selfs tragies geëindig, soos vir Simson. God was by elkeen op sy reis. Dit maak elke (lewens)reis die moeite werd.
Die Weg is vol padtekens en wegwysers en alles wat met reis te doen het. Die Weg is egter nie vir die toeris bedoel nie, maar vir die pelgrim. Want daar is ’n duidelike verskil. Toeriste wil soveel as moontlik sien, ’n foto neem en dan by die volgende besienswaardigheid kom. Pelgrims reis met ’n doel. ’n Pelgrimstog bring verandering en verdieping by die reisiger. Die reis saam met God word ’n pelgrimstog. Ons hoop dat Die Weg vanjaar vir jou ’n pelgrimstog sal wees.
Die Weg bestaan uit vier dele: ompaaie, alternatiewe paaie, kruispaaie en oorgrenspaaie. Dit wemel van Bybelkarakters wat saam met God gereis het. By elke afdeling is daar ses Bybelkarakters wie se reis saam met God só beskryf kan word. Ons leer ken hierdie karakters as gewone mense wie se pad met God gekruis het. By elke ontmoeting is daar biografiese inligting oor die karakter, ’n kaart wat wys waar die karakter geleef en gewerk het, wegwysers uit die Skrif, vrae en antwoorde vir vandag en ’n “border crossing” om die een of ander uitdaging aan te gryp.
INHOUD
Die nuwe generasie produk word alreeds vir die afgelope vier jaar met groot sukses en tevredenheid in verskeie gemeentes oor die land aangewend. Elke jaar se temas word nie alleen met ‘n gespreksgids aangebied nie maar word ook vergesel van ‘n CD en DVD.
Hierdie CD’s en DVD’s bied ekstra beskrywing en hulpmiddels vir die ontmoetings.
Die CD bied die volgende:
1. ‘n Uitgewerkte dokument wat die inhoud van elke ontmoeting omskryf. Hierin kan jy die gedagtes en ekstra idees rondom ‘n bepaalde tema nalees.
2. Vir gemeentes wat hierdie materiaal in jeugdienste, grootgroepbyeenkomste of in lokale met multimedia toerusting wil gebruik, kan van die volledige powerpoint aanbiedings gebruik maak.
Die DVD bied die volgende:
Ekstra uittreksels uit bekende flieks, asook karaktersketse deur jongmense of Bybelfigure word as byvoegsel tot sekere ontmoetings verwerk. Die aanbieder sal hierdie hulpmiddel met groot vrug kan gebruik om die nuuskierigheid en die deelname van die groep te prikkel.