Description
SUBTITEL: Reis saam met Barnabas
FORMAAT: PDF
BLADSYE: 112
OPSOMMING: Ons gebruik weereens ‘n meesterverhaal, dié keer nie ‘n hoofstuk of boek in die Bybel nie, maar ‘n karakter in die Nuwe Testament, Barnabas. Barnabas is een van die onvertelde en onderskatte verhale in ons Bybelse biblioteek. Hy is egter by uitstek iemand wat wys hoe ‘n lewenstyl gevorm word deur die geestelike gewoontes wat jy beoefen:.
• Die Here kon Barnabas se dankoffer gebruik om die eerste gemeente finansieel te bemoedig en te laat oorleef. Sonder sy vrygewigheid sou die gemeente baie moeilik ‘n basis kon wees vir die eksponensiële groei van die koninkryk in die eerste paar dekades van ons jaartelling.
• Die kerk kon Saulus en sy bediening aanvaar weens Barnabas wat hom gasvry ontvang het en só vir Saulus as borg in die eerste gemeente opgetree het. Daarsonder sou die kerk baie maklik eksklusief-Joods kon bly en kon kies om nie grense na ander oor te steek nie.
• Die jong Johannes Markus het in Barnabas ‘n begeleier en mentor van formaat gevind wat hom deur sy gawe van bemoediging in staat te stel om nie net uiteindelik met Paulus te versoen nie, maar ook die eerste en oudste evangelie te skrywe. Sy evangelie skets die eerste koherente prentjie van Jesus wat deur die ander sinoptiese evangelies as bronteks gebruik is.
Barnabas het ‘n fenomenale bydrae tot die eerste kerk en die vestiging van die koninkryk gemaak. Woorde ontbreek eintlik om sy bydrae na waarde te skat.
Hy was veral ’n Bemoediger, soveel so dat dit sy bynaam geword het. Hy was ‘n Borg vir Saulus, ’n Brugbouer in Antiogië, ‘n Bemagtiger van Saulus as leraar, ’n pionier Bedienaar van die evangelie aan die heidene en ‘n bobaas Begeleier van jong gelowiges.
Barnabas is dus vir almal van ons ‘n voorbeeld van iemand wat sy arsenaal van gawes – bemoediging, vrygewigheid, gasvryheid, begeleiding – tot voordeel van die kerk en in diens aan die Here aangewend het. Hy illustreer vir ons hoe ‘n Christelike lewenstyl werk.
Of ‘n mens nou kan peil trek op die 6de eeuse monnik van Siprus, Alexander Monachus, se beskrywing van Barnabas al dan nie – “his face was like that of an angel … and he had sparkling eyes” (Laudatio Barnabae, 25) – Barnabas verdien ‘n plek in die harte van Christene wêreldoor as ‘n man wat uitnemend geslaag het daarin om sy gawes in diens van sy roeping in die kerk en koninkryk in te span. Hy is ’n ware stigterspionier van die kerk van Christus wat meegewerk het aan sy wêreldgestalte.
In Die vrou by die Put, ons vorige publikasie wat in 2010 net voor Pinkster verskyn het, het ons die luistersiklus ingespan om ‘n beweging te begin wat mense kan laat Groei oor Grense na ander toe. Dit is geëggo in die Pinksterreeks wat daaruit voortgevloei het (jy kan die 10 preekriglyne by www.bybelmedia.co.za aflaai, indien jy belangstel. Die skakels is by die produk). Hierdie oorsteek van grense na ander mense toe is immers die belangrikste verandering wat die evangelie bring, dat dit die verhoudings tussen mense verander, dat ons mekaar anders begin raaksien, dat ons mekaar as geskenke van die Here leer ervaar, dat ons in ware gemeenskap met mekaar leer leef. En daarvoor moet ons doelbewus grense oorsteek, met deernis en openheid, met leerbaarheid en vertroue. Dit is die waardes wat die Seisoen van Luister in ons geskep het.
In hierdie Bybelstudieboek fokus ons nou op die lewenstyl wat tot stand kom in hierdie beweging na ander mense toe. Dit is nie genoeg om net tot rus te kom voor God en na Hom en ander te luister nie – die eerste beweging van die luistersiklus; dit is nie genoeg om net sy stem te hoor, ook in dié van ander, en daardeur geruk of getroos te word nie – die tweede beweging van die luistersiklus. Dit moet altyd ook lei tot ‘n nuwe manier van leef, ‘n nuwe lewenstyl – die derde beweging van die luistersiklus.
Een van die maniere waarop die kerk deur die eeue hierdie Christelike lewenstyl aangeleer en gekoester het, was deur praktiese geestelike gewoontes, of soos baie dit noem, geestelike dissiplines of geloofsgewoontes. Dit is eenvoudige oordraagbare tegnieke wat in die beoefening en bemeestering daarvan jou lewe vorm en Christus gestalte laat kry in jou (Gal 4:19).
Met geestelike gewoontes leer ‘n mens ‘n kant van die Christelike lewe ken wat jy nie kan leer net deur boeke te lees of aan die voete van geleerdes te sit nie. Dit is kennis wat net deur ervaring onder begeleiding van die Heilige Gees oopgesluit kan word (1 Kor 2:13). Dit is in die beoefening van die geestelike gewoontes wat ‘n mens dié kennis opdoen, op geen ander manier nie.
Ons wil met hierdie Bybelstudieboek op 10 sulke gewoontes fokus en dit koppel aan die Bybelse verhaal – daaroor later. Die 10 geestelike gewoontes is (met die gewoonte waarop dit gebaseer is in Engels):
• Vrygewigheid (stewardship)
• Gasvryheid (hospitality)
• Bemoediging (compassion)
• Omgee (service, mercy)
• Daaglikse ondersoek (daily examen)
• Getuienis (witness)
• Nederigheid (humility)
• Gemeenskap (community)
• Geloofsonderskeiding (discernment)
• Lewenspraktyk (rule for life)
INHOUD
Ons kies 10 grepe uit sy verhaal vir hierdie Bybelstudieboek, aan die hand waarvan ons ook die 10 geestelike gewoontes hanteer:
1. Sessie EEN: Hand 4:32-37 – Barnabas die Bemoediger (vrygewigheid)
2. Sessie TWEE: Hand 9:26-31 – Barnabas die Borg (gasvryheid)
3. Sessie DRIE: Hand 11:19-24a – Barnabas die Brugbouer (bemoediging)
4. Sessie VIER: Hand 11:24b-30 – Barnabas die Bemagtiger (omgee)
5. Sessie VYF: Hand 13:1-13 – Barnabas die Bedienaar (daaglikse ondersoek)
6. Sessie SES: Hand 13:13-52 – Barnabas die Beledigde (getuienis)
7. Sessie SEWE: Hand 14:1-20 – Barnabas die Bewonderde (nederigheid)
8. Sessie AGT: Hand 14:21-28 – Barnabas die Beskermer (gemeenskap)
UITGEWER: Bybel-Media
SKRYWERS
Dr Chris van Wyk is predikant van die NG gemeente Somerstrand in Port Elizabeth
Dr Nico Simpson is predikant van Kruiskerk
Frederick Marais is n gemeentekonsultant by Buvton