Kinders en jongmense is vir die Here baie belangrik.
Woensdag 16 Junie is Jeugdag. Baie liefdadigheidsorganisasies, skole, ouers, oumas en oupas, ooms en tannies vat op hierdie dag hande om ons jongmense, die leiers van die toekoms, toe te rus vir hulle pad vorentoe. Dit maak ’n mens baie opgewonde om te sien hoeveel ondersteuning en leiding daar vir die jeug gebied word. Ons jongmense het immers die potensiaal om groot dinge te vermag.
Bybel-Media is een van die instansies van Suid-Afrika wat ’n groot hart vir kinders en jongmense het. Ons het gehoor dat die jongste leerders van Soetendal Primêr boeke en skryfbehoeftes nodig het, en ons het besluit om te help. Buiten die groot klomp skryfbehoeftes, het ons saam met die SA Voedingsprojek ook eetgoed en 100 bederfpakkies met Bybelse aktiwiteitsboeke aan die skool geskenk. Dié skenking vorm deel van Bybel-Media se KinderKersKous-projek wat veral op die geestelike ondersteuning van kinders fokus.